|
Tussen die vier mure van Arbeidsgenot, lê lange jare van C.J.
Langenhoven, vader van Afrikaans, se geskiedenis. In die
vrykamer, wat hy as studeerkamer gebruik het, het Langenhoven
sy kop neergelê vir die ewige rus, maar steeds leef hy voort
in ons taal en boeke.
Sy woning is 'n Nasionale Gedenkwaardigheid. Elke vertrek
vertel jou iets van die mens Langenhoven, sy karakter en sy
werke - elke deur open op 'n nuwe ontdekking.
Arbeidsgenot se inhoud word noukeurig en met groot sorg bewaar.
Die muurpapier in die gang is deur Langenhoven self ontwerp en
beeld sy persepsie van Herrie se vel uit.
Van die pragtige houtwerk in die huis is 'n voorbeeld van
Langenhoven se ander handewerk.
In die eetkamer het Langenhoven saans op sy stoel voor die kaggel
aangesit vir ete. Op dieselfde stoel, wat deur Vroutjie gemerk
is, het hy ook baie maal gesit en skryf. Dit is hier, uit die
hart en pen van C.J. Langenhoven dat die eerste drie strofes
van Die Stem, voorheen die volkslied van ons land en nou deel
van die nuwe volkslied, gevloei het – elke woord 'n uitdrukking
van sy geloof in die land waarvoor hy so hartstogtelik lief was.
Langenhoven se sukses as skrywer het daarin gelê dat hy geskryf
het oor die alledaagse dinge, dit waarmee die gewone mens hom
kon vereenselwig. So, byvoorbeeld, was die “prentlys” van
spelende kinders in die eetkamer die inspirasie vir sy boek
"Die Krismiskinders" en die olifant op die vertoonkas het
aanleiding gegee tot die boeke Sonde met die Bure en Herrie
op die Tremspoor. Na die verskyning van hierdie boeke, het
Langenhoven olifante as geskenke van heinde en verre ontvang,
Op die oomblik is daar nie minder as 108 olifantjies by Arbeidsgenot nie.
In die sitkamer hang daar 'n pragtige foto van Engela as
tienjarige – sy was die enigste, eie kind van Langenhoven en
Vroutjie. Vroutjie het vier kinders uit haar vorige huwelik
met Van Velden gehad. Op 'n tafeltjie in die sitkamer is die
bekende Rubaiyat deur Omar Khayyam, wat deur Langenhoven uit Engels
in Afrikaans vertaal is. Die kissie waarin die boek nou is, is deur
Langenhoven self gemaak. Hy het ook self die manuskrip in leer
gebind voordat hy dit aan Vroutjie as geskenk gegee het.
Die voorste spaarkamer is, nadat die Van Velden-kinders uit die
huis is, deur Langenhoven verander in 'n studeerkamer, alhoewel
hy nooit een spesifieke plek gehad het waar hy geskryf het nie.
Hy het die vermoë gehad om selfs in 'n restourant, te midde van
al die geraas te skryf. Hy was ook baie lief om in die tuin
onder die Karoosipres te sit en skryf en later, nadat die boom
gevrek het in 1927 se droogte, onder die bamboesbos wat hy ook
self geplant het.
In die hoof slaapkamer staan 'n koperhemelbed wat vermoedelik
gemaak was vir 'n Indiese Prinses, maar per ongeluk op Mosselbaai
afgelaai is toe dit op pad was na Bombaai. Langenhoven het die
bed op 'n veiling vir £12 (pond) gekoop. Die matras wat met
klapperhaar gestop is, het heelwat probleme veroorsaak aangesien
dit te swaar was vir Vroutjie om alleen te hanteer. Langenhoven
het die matras laat opsny met drie panele bo sodat Vroutjie die
makliker kon omdraai. Voor die bed is een van Vroutjie se
Voortrekkerrokke wat sy met die eeufees in 1938 gedra het.
Daar word vertel dat Langenhoven soggens vieruur sy dag voor
die swartstoof begin het, deur die aansteek van die stoof en
die maak van sy eerste koppie swart Boeretroos van moer wat
spesiaal die vorige aand deur Saartjie Karolus gemaal is.
Hy het gehou van vars koffie en geweier om “ou” koffie te
drink. Op die rak van die kombuiskas in die hoek staan een
van die eerste ingevoerde porseleinstelle in Afrikaans Die
inskripsie is deur Langenhoven self vertaal.
Langenhoven is in 1932 in die ouderdom van 58 jaar en 11
maande aan hartverlamming in die voorste spaarkamer oorlede
en is oorleef deur sy vrou, geliefde dogter en vier
stiefkinders. Vroutjie is in 1950 oorlede en het Arbeidsgenot
aan almal vir wie Afrikaans belangrik is, nagelaat. Arbeidsgenot
is op 21 April 1955 amptelik as museum vir die publiek geopen.
Gedurende 1989 – 1990 is die huis en die tuin volledig gerestoureer
en baie sorg is aan die dag gelê om te verseker dat alles so na as
moontlik aan die oorspronklike gehou word.
Kom besoek Arbeidsgenot gerus en beleef self die wonder van Afrikaans.
"Indien u sou belagstel om by Arbeidsgenot se Vriende vereniging aan te sluit kan u die onderstaande
aansoekvorm invul en tesame met u Tjek/Posorder of depositostrokie stuur aan adres soos onder aan
aansoekvorm gegee. of per vonkpos aan museum@arbeidsgenot.co.za . Met die lidmaatskap kan u en een
famielid Arbeidsgenot gratis besoek en daar sal gepoog word om kwartaliks 'n inligtings nuusbrief
op die web te plaas, sodat u op hoogte gehou word van alle verwikkelinge by Arbeidsgenot. U
vriendskap is vir ons baie belangrik."
|