ARBEIDSGENOT

Met besoek aan Arbeidsgenot

Tussen die vier mure van Arbeidsgenot, lê lange jare van C.J. Langenhoven, vader van Afrikaans, se geskiedenis. In die vrykamer, wat hy as studeerkamer gebruik het, het Langenhoven sy kop neergelê vir die ewige rus, maar steeds leef hy voort in ons taal en boeke.

Sy woning is 'n Nasionale Gedenkwaardigheid. Elke vertrek vertel jou iets van die mens Langenhoven, sy karakter en sy werke - elke deur open op 'n nuwe ontdekking. Arbeidsgenot se inhoud word noukeurig en met groot sorg bewaar. Die muurpapier in die gang is deur Langenhoven self ontwerp en beeld sy persepsie van Herrie se vel uit. Van die pragtige houtwerk in die huis is 'n voorbeeld van Langenhoven se ander handewerk.

In die eetkamer het Langenhoven saans op sy stoel voor die kaggel aangesit vir ete. Op dieselfde stoel, wat deur Vroutjie gemerk is, het hy ook baie maal gesit en skryf. Dit is hier, uit die hart en pen van C.J. Langenhoven dat die eerste drie strofes van Die Stem, voorheen die volkslied van ons land en nou deel van die nuwe volkslied, gevloei het – elke woord 'n uitdrukking van sy geloof in die land waarvoor hy so hartstogtelik lief was.

Langenhoven se sukses as skrywer het daarin gelê dat hy geskryf het oor die alledaagse dinge, dit waarmee die gewone mens hom kon vereenselwig.
So, byvoorbeeld, was die "prentlys" van spelende kinders in die eetkamer die inspirasie vir sy boek "Die Krismiskinders" en die olifant op die vertoonkas het aanleiding gegee tot die boeke Sonde met die Bure en Herrie op die Tremspoor. Na die verskyning van hierdie boeke, het Langenhoven olifante as geskenke van heinde en verre ontvang, Op die oomblik is daar nie minder as 108 olifantjies by Arbeidsgenot nie.

In die sitkamer hang daar 'n pragtige foto van Engela as tienjarige – sy was die enigste, eie kind van Langenhoven en Vroutjie. Vroutjie het vier kinders uit haar vorige huwelik met Van Velden gehad. Op 'n tafeltjie in die sitkamer is die bekende Rubaiyat deur Omar Khayyam, wat deur Langenhoven uit Engels in Afrikaans vertaal is. Die kissie waarin die boek nou is, is deur Langenhoven self gemaak. Hy het ook self die manuskrip in leer gebind voordat hy dit aan Vroutjie as geskenk gegee het.

Die voorste spaarkamer is, nadat die Van Velden-kinders uit die huis is, deur Langenhoven verander in 'n studeerkamer, alhoewel hy nooit een spesifieke plek gehad het waar hy geskryf het nie. Hy het die vermoë gehad om selfs in 'n restourant, te midde van al die geraas te skryf. Hy was ook baie lief om in die tuin onder die Karoosipres te sit en skryf en later, nadat die boom gevrek het in 1927 se droogte, onder die bamboesbos wat hy ook self geplant het.

In die hoof slaapkamer staan 'n koperhemelbed wat vermoedelik gemaak was vir 'n Indiese Prinses, maar per ongeluk op Mosselbaai afgelaai is toe dit op pad was na Bombaai. Langenhoven het die bed op 'n veiling vir £12 (pond) gekoop. Die matras wat met klapperhaar gestop is, het heelwat probleme veroorsaak aangesien dit te swaar was vir Vroutjie om alleen te hanteer. Langenhoven het die matras laat opsny met drie panele bo sodat Vroutjie die makliker kon omdraai. Voor die bed is een van Vroutjie se Voortrekkerrokke wat sy met die eeufees in 1938 gedra het.

Daar word vertel dat Langenhoven soggens vieruur sy dag voor die swartstoof begin het, deur die aansteek van die stoof en die maak van sy eerste koppie swart Boeretroos van moer wat spesiaal die vorige aand deur Saartjie Karolus gemaal is.

Hy het gehou van vars koffie en geweier om "ou" koffie te drink. Op die rak van die kombuiskas in die hoek staan een van die eerste ingevoerde porseleinstelle in Afrikaans Die inskripsie is deur Langenhoven self vertaal.

Langenhoven is in 1932 in die ouderdom van 58 jaar en 11 maande aan hartverlamming in die voorste spaarkamer oorlede en is oorleef deur sy vrou, geliefde dogter en vier stiefkinders. Vroutjie is in 1950 oorlede en het Arbeidsgenot aan almal vir wie Afrikaans belangrik is, nagelaat. Arbeidsgenot is op 21 April 1955 amptelik as museum vir die publiek geopen. Gedurende 1989 – 1990 is die huis en die tuin volledig gerestoureer en baie sorg is aan die dag gelê om te verseker dat alles so na as moontlik aan die oorspronklike gehou word.

Kom besoek Arbeidsgenot gerus en beleef self die wonder van Afrikaans.

BESOEKTYE

MAANDAG TOT VRYDAG [ SATERDAG OP VERSOEK ]
TYE: 09:00 - 13:00 en 14:00 - 16:00


Copyright © 2017  ::  Arbeidsgenot - C.J. Langenhoven  •  Site by:  WebWorX