STILLE WATERS EN DERDUIWELS

Sewende Langenhoven-gedenklesing
Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Oudtshoorn

3 April 2011

deur André P Brink

Opgedra aan Karina en dankie aan Willemien vir die proeflees.

Hierdie lesing en die elektroniese publikasie daarvan is moontlik gemaak deur 'n ruim subsidie
van die L.W. Hiemstra-Trust.

Sewende Langenhoven-Gedenklesing
Eerste uitgawe in 2011 deur Langenhoven-Gedenkfonds,
Arbeidsgenot, Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, 6625
www.cjlangenhoven.co.za

© 2011 in teks deur André P Brink

Geen gedeelte van hierdie teks mag sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of –ontsluiting.

Stille Waters en Derduiwels
(1)
Moenie agterstevoor na iemand toe aankom nie: hy sal dink jy lyk rondom so. Dít is die eerste aanhaling van Langenhoven wat ek as kind geleer het – en van toe af is ek verslinger op ons eie weergawe van die 17de eeuse spreukemaker, François de la Rochefoucauld (1613 – 1680). Dié het roem verwerf met sy spitsvondigheid, sy skerp insig in en sy afsku van 'n wêreld waar die beste gedrag en optrede geïnspireer is deur selfbelang en agterbaksheid. Langenhoven is milder en ook – meestal – minder venynig van geaardheid as die Franse hertog, maar bly sy gelyke in die klaarheid van sy blik en die briljantheid van sy humor.

Om by voorbaat saam te vat waarop ek my vandag wil probeer toespits, sou ek sê dat hoewel daar by Langenhoven telkens 'n versugting bestaan na stille waters, na waters waar rus is, as uitgangspunt vir sy ontdekkingstogte in die skryfmedium, daar byna altyd 'n duiwel onderkant die stille waters ronddraai. Dit mag by hom selfs 'n mediese, fisiologiese herkoms gehad het, gedagtig aan sy verwysings na die "blou duiwels" wat hom lewenslank bly teister het: dit wil sê alkohol en 'n psigiese toestand wat daardeur vererger is. Maar selfs ás dit so was, dan is dit net 'n klein beginpuntjie vir iets oneindig meer verwikkeld en indrukwerkkend. Daarvandaan kring dit ver uit na die vorm wat vir ons vandag ter sake is, naamlik die verskyning van 'n onverwagte element in 'n andersins gewone, bekende of voorspelbare konteks. In vandag se gesprek gaan dit vir my om sy virtuose verruiming van Afrikaans deur die wonderlike verskeidenheid taalvorme en genres in sy spreuke en sy kinderverhale, spookstories, samesprake, ernstige diskoerse, komiese (of soms kosmiese) sketse, sy realistiese of fantastiese vertellings, waarin hy eksperimenteer met vertellers en vertelsituasies, om iets totaal ongerymds in reliëf te stel teenoor die gewone of die ernstige. Hy wil met ander woorde die leser tot nadenke skok deur die verrassende te omraam met die alledaagse, of – omgekeerd – die gewone met die heeltemal onverwagte. Veel van sy unieke humor en sy houvas op die leser word hierdeur bepaal en onvergeetlik gemaak. Dit spreek vanself dat mens binne die bestek van één lesing nie naasteby na die hele omvattende oeuvre kan kyk nie: daarom stel ek voor dat ons, afgesien van 'n paar algemene opmerkings, net enkele tekste uitsonder vir nadere beskouing.

(2)
Ten eerste is daar die spreuke uit Aan stille waters I, en uit Deel II van Ons weg deur die wêreld, maar ook ingebed in talle verhale en artikels in Langenhoven se epigrammatiese manier van dink en skryf. Elke spreuk wat hy opteken, berus op 'n teenstelling, soms selfs 'n teenspráák. In dié uit Aan stille waters lê dit dikwels (maar lank nie altyd nie) sigbaar op die oppervlak, maar natuurlik met die deels versweë of verborge betekenis wat in die betreklik onlangse opkoms van die eg-Afrikaanse verwysing na die oortjies van die seekoei geïllustreer word:

"Aan elke silwerrandjie hang 'n wolk" – waar die betekenis op papier volledig berus op 'n bekende – maar afwesige ­– verwysing. Soos ook in: "Alle paaie lei na Rome – en weg daarvandaan". Of: "Elke einde is 'n begin". Daarvandaan is dit maar 'n hanetreetjie na: "Al ons groot manne is in die graf", of: "Moenie buite soek wat binne makeer nie". Hier bestaan daar nie 'n bekende gesegde wat afwesig is nie, maar is daar 'n afwesigheid bínne die gebruikte sin self: dus 'n afwesigheid nie in die woorde nie, maar in die logika van hulle vermoedelike of verwagte betekenis.

In Ons weg deur die wêreld raak dit veral opwindend waar 'n spreuk (en verkieslik 'n spreuk wat reeds op 'n dubbeldoor-inhoud gebaseer is), dadelik gerelativeer of uitgebrei of selfs teengespreek word deur 'n kommentaar wat in hakies daarop volg. In die literatuurteorie van die twintigste eeu neem Bakhtin steeds 'n sentrale plek in met sy onthullende navorsing in die dialogiese aard van taal. Maar laat ons nie vergeet nie hoedat Langenhoven, min of meer sy tydgenoot, op talle openbarende maniere die dialogiese 'n uitgangspunt van sóveel van sy geskrifte gemaak het: die gereelde "dialoog" tussen Sagmoedige Neelsie en sy versondigende bure; die "dialoog" tussen regeerders en regeerdes; tussen doppers en filistyne; tussen Nat en Sap; tussen Engels en Afrikaans. Dit raak besonder spitsvondig – én dikwels verrassend diepsinnig – in situasies tussen Neelsie en Oom Stoffel in die reeks sketse waarin eerste- en derdepersoonsprekers as 't ware op 'n postmodernistiese manier omgeruil word sodat oom Sarel, die fiktiewe of narratiewe karakter, die verteller is wat praat óór sy jong vriend Neelsie, dit wil sê die eintlike "skrywer" van die teks – 'n tegniek wat heelwat later ontwikkel word deur, byvoorbeeld, Etienne van Heerden in Die stoetmeester. Maar daar is ook nog die dialoog tussen Loeloeraai en aardbewoners, dus nie net tussen twee ruimtes nie, maar tussen twee soorte ruimte, twee maniere van dink oor ruimte. En uiteindelik is daar die belangrikste soort dialoog, soos wat mens dit by 'n hoogtepunt van die Argentynse skrywer Jorge Luis Borges aantref in "Borges y Yo": "Borges en ek", waar ego en alter ego mekaar die gesprek aansê. In dié verband voer Langenhoven byvoorbeeld 'n onderhoud met homself, soos in "Interview oor 'n lugreis". Anders is daar verruklik onthullende komiek, soos in "Neelsie en Vroutjie veg 'n duel". Soms word dit aangebied as 'n "Samespraak" en soms, in dieselfde afdeling van Ons weg deur die wêreld I, selfs as 'n "Alleenspraak".

Maar die mees spesifieke demonstrasie van die dialogiese spreuk is sekerlik die "Duisend spreuke" (eintlik – en nie verniet nie! - is daar glad nie 'n duisend nie, maar 1034) in Ons weg deur die wêreld II. Mens sou 'n hele lesing kon wy aan die tegnieke en die denkwêreld wat in dié spreuke ontgin word, maar selfs 'n klein en lukraak keuse kan al die reikwydte van hierdie wêreld demonstreer. In die proses wil ek nie te veel – en veral nie te hoog-akademies - analiseer en interpreteer nie, gedagtig aan Langenhoven se eie waarskuwing in 'n ander konteks (in Donker spore): "Geen kommentaar kan van meer gewig wees as die feite self nie. En om hiervandaan, en op hierdie stadium, met teorieë voor 'n dag te kom, sou niks meer beteken nie as dom-astrantheid."

Láát ons dan domastrant wees:

49, 50

"Die verstandigste mense wat ek nog in my lewe raakgeloop het was dié wat my vir 'n verstandige man aangesien het."

– waarop die onvermydelike kwinkslag volg:

"(Of so gesê het.)"

Hier is die spreuk nie net gebou op die "dialoog" tussen die spreker se opinie oor die "verstandigste mense" wat hy al teëgekom het en hulle opinie oor hóm nie, maar natuurlik tussen hul uitgesproke en versweë opinies – dus ook tussen die gesproke en geskrewe woord wat vir Derrida so 'n uitgangspunt van die taalteorie geword het, en vir Italo Calvino die grondslag van die spanning binne die taal self, tussen dit wat gesê word en dit wat nie gesê kan of mag word nie: of dan eerder dit wat alleen gesê kan word danksy, of deur die genade, van dit wat altyd ongesê moet bly. Of:

63, 64
"Pasop vir die man wat sy oë half toe hou. Dis nie dat hy nie wil uitkyk nie – dis om te keer dat jy nie inkyk nie. (Ons woon almal maar in 'n donker kamer met 'n baie noue skeurtjie.)"

Die "liggaam" van hierdie spreuk bied alreeds 'n "dialoog" aan tussen die verwagte en die ónverwagte, met tussen die hakies 'n gevolgtrekking wat albei sowel verlê as aanvul.

177,179
"Die luiaard is die enigste man wat van sy slaap sal moet rekenskap gee.
(Al het hy gedroom dat hy wakker was.)"

Hier beweeg Langenhoven eintlik – gewis onbewus – in die wêreld van Zen in, waar 'n koei, soos ons uit die werk van Breyten weet, 'n blom kan eet en dan verander in 'n blom wat 'n koei eet. Of in die wêreld van Berkeley waar, volgens Lewis Carroll, Tweedledee en Tweedledum baie saggies moet praat sodat die Rooi Koning wat besig is om hulle te droom, nie dalk wakker word en hulle verdwyn nie. Of ons kan gewoon terugkeer na Langenhoven wat in "Die swerwende Jood" (steeds in Uit stille waters) 'n stukkie dialoog – weer daardie sinryke woord! – aanhaal, dié keer uit 'n gesprek tussen hom en Vroutjie wanneer sy hom een oggend kom wakker maak en hom vra om haar te vertel wat hy haar die vorige aand belowe het. Hy antwoord:

"Vroutjie, daar is niks om te vertel nie. Ek het 'n snaakse droom gehad, 'n baie óú droom,'n oorgedroomde droom van my kinderjare."
"Ouman, ek het iemand aan die voordeur hoor klop, middernag, en ek het jou die deur hoor oopmaak".
"Vroutjie, jy het saam met my gedroom."
Inderdaad dan: "We are such stuff as dreams are made on/And our little life is rounded with a sleep."

Nog een van die spreuke:

247, 248
"'n Vrou sien deur 'n man soos deur 'n ruit; hy sien maar sy beeld aan haar soos in 'n spieël. (As hy dan maar meer in die spieël wou kyk en sy meer deur die venster.)"

En so bly kyk ons heeltyd deur 'n spieël in 'n raaisel en lewe tussen afkaatsings en weerkaatsings totdat niemand meer kan onderskei tussen wat is en wat was en wat sal wees – of, tewens, tussen wat is en nie is nie. "And nothing is but what is not," om weer met Shakespeare te praat, dié keer uit Macbeth.

En hier is nog 'n meesterlike spreuk:

339, 340
"As Pilatus regtig onskuldig was, sou dit nie nodig gewees het vir hom om sy hande te was nie.
(En verniet te was nie. Want hy het hulle tog nie skoon gekry nie – hy wat met die was daarop uit was om te wys dat dit 'n onnodige was was.)"

Wat hier by 'n Bybelse verwysing begin, loop deur diep metafisiese skaduwees (van Nasaret en elders?), maak 'n draai by Dostojewski se Skuld en boete, en kom anderkant uit (as hy hoegenaamd weer uitkom?) by 'n suiwer taalspel, waar was en was ten minste twee betekenisse het. Want Langenhoven weet intuïtief wat moderniste en postmoderniste eers weer agterna met moeite moes herontdek: dat in die literatuur, soos in die lewe, alles uiteindelik teregkom in taal, in die woord; en dat, soos Derrida dit gepostuleer het, daar niks bestaan buite die teks nie.

Steeds lukraak, 'n volgende spreuk:

501, 502
"Dat 'n man se Sondagsgedrag onbesproke is, sê niks. Om die plafon skoon te hou, is geen moeite nie: dis die vloer wat vol spore getrap word.
(Dis darem beter as dat albei vuil sou wees.)"

Hier, lyk dit my, spreek die musiek mee: want hier word in twee sleutels gespeel: as die beeld van die vloer en die plafon in die majeursleutel gedink is, verander dit met die gevolgtrekking in iets heeltemal anders, sê maar in die mineur. Of natuurllik andersom: take your pick, Langenhoven is nie snoep nie.

681, 682
"Ondervinding is die beste leermeester, maar die skoolgeld is meestal te duur. Hy verdrink jou om jou te leer om vir die diep water op te pas.
(Pleks dat hy jou liewer dan en daar plotseling leer swem.)"

Dié een is duidelik meer prakties ingestel: Langenhoven ken óók, en goed, 'n boerewêreld van feite, en werk, en waarhede soos koeie (en nie noodwendig Zen-koeie nie). Maar daarby verkry dit, byna onvermydelik, 'n morele, of etiese, bestanddeel: omdat skryf as sodanig altyd vir hom 'n morele dimensie gedra het – dikwels (vir sy tyd en situasie volkome begryplik, vir ons tyd dikwels alte prekerig) ingestel op onderrig, die oordra van 'n lewensles. (Maar dit bly 'n merkwaardige deug dat hy dit meestal so sjarmant, of selfs virtuoos, regkry.)

Heelparty van die spreuke in hierdie rubriek is wel ook enkelspreuke, sonder die vermanende hakies aan die einde:

749
"Moenie terugslaan nie. Slaan eerste."

Wie het in Engels iets soortgelyks gesê? – "I always retaliate when I'm hit. Sometimes I retaliate even before I'm hit?"

'n Meer verwikkelde enkelspreuk lui so:

745
"Ek neem die slang nie kwalik nie: dis maar sy geaardheid om te byt.
Maar hy moet my ook nie kwalik neem dat dit my geaarheid is om hom
dood te slaan nie."

770
"As jy jou verbeel dat jy gelukkig is is jy gelukkig."

In hierdie spreuk gaan dit weer minstens om twee betekenisse van "gelukkig" – wat die leser waarsku om nie enigiets op sigwaarde te aanvaar nie. En dit is moontlik op stuk van sake die sinvolste "les" wat Langenhoven telkens – en op soveel verskillende maniere! – in sy tyd, en tot in ons eie, bly oordra.

822
"Goed genoeg was nog nooit goed genoeg nie".

913
"Die duisternis het geen skaduwees nie."

954
"As ek oor my dink is daar dan twee van ons?"

Hiermee is ons natuurlik opnuut by die uitgangspunt van Borges y yo.

1005
"Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se familie."

'n Uitspraak wat nogal dikwels in die apartheidsjare gebruik is om die verskille in die mentaliteit van Afrikaanse en Engelse blanke Suid-Afrikaners te verduidelik: sekerlik veels te oppervlakkig, maar destyds nie sonder 'n skeutjie waarheid nie: dat Afrikaners sou verkies om eerder in die konkrete denkruimte te beweeg en dat hulle dáárom "die swartes" as 'n groep of as 'n konsep na gelang van omstandighede kon haat of vrees, terwyl hulle dikwels merkwaardige verhoudings met individuele swart mense kon handhaaf – terwyl Engelssprekendes, wat glo gemakliker in 'n abstrakte of teoretiese konsep funksioneer, vol lof en selfs sentimentele bewondering "die swartes" kon patroniseer en ophemel terwyl baie van hulle skandalige verhoudinge met hul "bediendes" of selfs "kollegas" sou gehad het. In dié opsig het ons darem hopelik intussen álmal gevorder.

En kyk wat nie alles in die volgende spreuk gebêre is nie! – oorlog en vrede; Israeli en Palestyn; man en vrou; 'n seksualiteit gebaseer op geweld, teenoor 'n verhouding gebaseer op denke en emosie (of sommer net, sou Neelsie wonder, op lis?):

1017
"Goliat was vir die Filistyne baie minder werd as Delila."

Ek beweeg teësinnig aan na 'n volgende aspek van hierdie diskoers. Maar eers net, in die verbygaan, 'n kort uitbreiding: dat Langenhoven se spitsvondigheid (met al die verskuilde diepte en erns wat agter die speelse harlekynebaadjie wegkruip) ook sy limerieke kenmerk. (Die limeriek was in Afrikaans van vroeg af 'n gewilde vorm: maar ek moet bysê dat ek van min tale weet waarin daar al soveel hopelose limerieke gepleeg is as juis in Afrikaans. Juis daarom is Langenhoven se meesterskap hier onbestrede):

"'n Wewenaar, Louw Bewenaar van Gouderdom,
Het weggesteek van sy ouderdom.
'Waarom beef jy dan, Louw,'
Vra die jong wedevrou –
'Dis maar niks', sê die ou, 'skone kouderdom.'"
("Die selfverdediger")

Die dubbele en driedubbele taalspel wat hier optree, spreek vanself. (En dalk ook nié heeltemal so vanself nie!)

Daarby nog net enkeles, vir die pure plesier:

Een: "Koos Kaai sien 'n haai in die baai.
Hy spring in om te baai by die haai.
Toe wens hy hy kon draai –
Want hoe kon hy raai,
Dis so nou om te baai in 'n haai."
("Die proefnemer")

Twee: "Piet Zondagh en sy dogter Griet Zondagh
Leer Hooghollands stadagh maar grondagh;
Hulle sê, vir 'n oumens,
En nog meer vir 'n vroumens,
Is Afrikaans te kort en te bondagh."
("Die festinalenters")

Drie: "Jaap Swaap, seun van Aap van der Vywer,
Wou beroemdheid verwerf as 'n skrywer.
Maar toe vind hy sy kragte
Ontbloot van gedagte,
En nou's hy 'n malkuns-bedrywer".
("Die moderne")

Met dié een sou hy waarskynlik op die heelhartige ondersteuning van Saartjie Goldblatt kon gereken het, as mens in aanmerking neem wat sy byvoorbeeld van die Sestigers gesê en gedink het.

(3)
Wat op so'n pittige manier in die kort tekste oorgedra word, word op 'n groot verskeidenheid maniere in langer tekste uitgewerk. Was daar maar tyd om uitvoeriger in te gaan op die verrassende en vir sy tyd gewaagde voorstelling van Jesus deur 'n verskeidenheid van vertellers in Skaduwees van Nasaret; of die manier waarop 'n besoeker van Venus geïntegreer word in die dorpslewe van die Karoo in Loeloeraai om groot en globale gegewens deel te maak van 'n oer-Afrikaanse wêreld; of die geskakeerde teenstellinge wat uitgewerk word tussen die ek-verteller Oom Gieljam en die "hy" wat die eintlike ek-bewussyn agter Doppers en Filistyne en 'n menigte ander tekste, kort en lank, dra; die verstommende mosaïek van lig en donker in Aan stille waters, of die donker ondergrond wat uitgewerk word agter en onder "kinderverhale" soos Die Krismiskinders, om van Brolloks en Bittergal nie te praat nie, soos ook in Mof en sy mense en dies meer. Oral en altyd is daar oënskynlik stille waters – en oral en altyd derwisje en derduiwels wat ronddraai en stof opskop of water in jou oë spat.

Maar waarby ek tog 'n wyle wil versuim, is die immergroen tweeluik, Sonde met die bure (1921) en Herrie op die óú tremspóór (1925). Albei steun op die buitenissige gegewe van Langenhoven wat 'n sirkusolifant aanskaf en met sy familie op reis gaan na en deur Meiringspoort om te ontkom aan nimmereindigende sonde met die bure en dan, voorspelbaar, sy sonde met hom saamdra. Die kielierigheid van Sonde begin net oënskynlik met die olifant as die buitensporige teenwoordigheid op 'n tipiese klein Afrikaanse dorp; maar die leser kom gou agter dat die diskrepansie eintlik in 'n ánder spanning lê, naamlik dat "hulle almal eners is en ek is nie eners nie. Ek is anders" (Versamelde werke II, 21). Buitensporige komiek en klein-realisme skep hier saam-saam aan 'n genoeglike avontuur waarin elk 'n prikkel vir die ander word, en waarin daar tog geslaag word om agter die "bont bedryf van aardse dinge" (as ek W. E. G. Louw nou reg onthou) verrassende dieper insigte in menslikheid oor te dra. In Herrie wil die ongewone manier van skryf in die titel (nie Herrie op die ou tremspoor nie, maar Herrie op die óú tremspóór) die leser al voorberei op 'n ontsporing van die gewone. Hierdie tweede teks is veral gebou rondom 'n reeks "ontmoetings" – met 'n dominee, 'n konstabel, 'n magistraat, 'n suinigaard, 'n tevrede vrou, 'n boer, 'n aspirant-skoonseun en 'n professor. Maar Langenhoven vermy 'n indruk van oormatige planmatigheid en voorspelbaarheid danksy heelwat variasie in die aard van die ontmoetings, en slaag só daarin om die onverwagsheid van draaiende derduiwels onder die oënskynlik eenselwige oppervlak deurentyd te bly stook. In plaas van sedig en swaarwigtig te bly, word die dominee 'n man wat kan skaterlag; die konstabel kan hoegenaamd niks opspoor nie; die magistraat is die teenoorgestelde van wat Sagmoedige Neelsie van hom verwag; die suinigaard is eintlik goedgeaard en vrygewig; die tevrede vrou blyk hoogs óntevrede te wees; in die boer is daar niks van die korrelkop nie: hy is eerder redelik, hoflik en saggeaard. Net die aspirant-skoonseun is presies wat hy is, soos ook die professor – maar omdat die leser teen daardie tyd ingestel is op 'n binneste-buitenste omkeer van verwagtinge, word juis dít verrassend en ongewoon. En nes die leser dít begin aanvaar het, word al die verwagtinge omgekeer: nou stel die professor nie meer ongehoorde eise aan Neelsie nie, maar bied hom 'n eregraad aan. Die wêreld is eenvoudig nie wat hy was, of wat hy veronderstel was om te wees nie. Dít is wat gebeur as jy 'n olifant op 'n kleindorp loslaat.

(4)
Teen dié vlugtig gesketste agtergrond kan ons aanbeweeg na langer tekste om te kyk wat van die gestelde uitgangspunte word wanneer hulle in 'n sterker gedramatiseerde en meer verwikkelde opset funksioneer. Ek sou graag uitvoerig wou stilstaan by wat ek nog altyd as van Langenhoven se mees virtuose werk – en ongetwyfeld van sy mees gewilde -beskou, die spookverhale van Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930). Die derduiwels wat in hierdie stille waters rondkarring, is 'n verstommende reeks manifestasies van die bonatuurlike, iets wat – natuurlik – in die Klein Karoo, veral die ouer dimensies daarvan, so tuishoort soos kragonderbrekings by Eskom, liegstories by Schabir Shaik of korrupsie by die Zuma-bewind. Maar dit het ek al aangeroer in 'n vorige Langenhoven-lesing by 'n vorige KKNK. Daarom kan ons ons net, by wyse van aanmaning, herinner aan Langenhoven se eie wonderlike stelling in die seminale verhaal "Die twee professore" uit Geeste op aarde:

"Nou ja, alles wat bo in die hemel is, of onder op die aarde, is onverklaarbaar, van watter standpunt ook" (Versamelde werke 3, p 98, 1974-uitgawe).

En wat dan uit verhaal ná verhaal blyk, is dat die gewone, stoflike, menslike, aardse werklikheid gewoon nie kan bestáán sonder daardie bonatuurlike wederhelfte nie. Eintlik "bestaan" hulle dan ook nie as afsonderlike helftes – die een hier, die ander daar – nie, maar in 'n voortdurend vervlegte en verwikkelende verband.

'n Sleutelstrategie wat in dié verhale gebruik word, het ek (soos verskeie ander kommentators) destyds al aangedui, is dat hier nêrens 'n een- of enkelvoudige vertelsituasie voorkom nie, maar dat daar altyd verskeie vertellers binne-in en buite-om elke verhaal gebruik word – in so 'n mate dat mens kan sê dat die verhale as 't ware ­–vóórtkom­ uit die spanning tussen vertellers. 'n Byderhandse voorbeeld is die titelverhaal uit Die wandelende geraamte. Die primêre verteller word vereenselwig met die skrywer C. J. Langenhoven: hy heet Kerneels, verwys na sy eggenote as "Vroutjie", wat reeds aan die leser bekend sal wees uit talle ander geskrifte van Langenhoven, en verskaf uit die staanspoor aan die leser 'n ooggetuieverslag van die plasie in die Kouveld, in die koppe tussen die Klein-Karoo en die Groot Karoo, waar die verhaal hom afspeel. Die uiterste realisme waarmee die verhaal gesitueer word, moet dus uit die staanspoor die indruk van 'n "opgemaakte" verhaal – en die bonatuurlike gegewens daarin – teenwerk:

"Ek onthou nog vandag baie goed die pad deur Seweweekspoort van Ladismith (Kaap) se kant af, en die pad van Laingsburg vandaan, Buffelsriver af, Rooinek oor, en dan ál onder die Swartberg langes …"

Die leser moet dadelik weet dat sy of hy hom tussen vertroude en betroubare metgeselle bevind. En die (oënskynlike) eerlikheid waarmee Langenhoven vertel van die meisie met wie hy vanslewe 'n verhouding gehad het voordat hy later met Vroutjie getroud is, moet dan dien as waarborg vir die outentisiteit van wat daarop volg. Dat hy dan die ware naam verswyg van Carolina se pa wat op die betrokke plasie woon en oorspronklik die ontmoeting met die wandelende geraamte beleef het, beïndruk die leser nié as 'n verswyging en 'n rede tot wantroue nie, maar juis as bewys van die feit dat hy hier 'n vertroulike, ware verhaal vertel waarmee hy nie die werklike, lewende betrokkenes in 'n verleentheid wil stel nie: "Ek sal hom maar 'oom Dirk' noem en sy van verswyg (maar die Kouveldse mense sal almal baie goed weet wie ek bedoel) – ek sê die ou was byna my skoonvader. Maar op die end het Carolina my afgesê, soveel as daar dan was om af te sê. En daarin (soos Vroutjie sal instem) het Carolina wyslik gehandel want sy is met 'n beter man getroud as ek. So een, sal my bure sê, sal ook nie te skaars gewees het om te kry nie." (124) Die volgehoue selfspot hier, so fyn en kenmerkend van Langenhoven, versterk die werklikheidsillusie net verder.

Teen die tyd dat hy dan by die storie kom soos wat oom Dirk dit dan glo die aand vertel het, eet die leser by wyse van spreke al uit die verteller (of vertellers) se hand. En tog plant Langenhoven ook uit wans uit duidelike rigtingwysers – om ons op die spoor van sy verdigsel te hou: "Die aand het ek dan die geskiedenis [let op: "geskiedenis", nie "storie" nie] uit oom Dirk se eie mond gehoor [dus: waarder en egter kan dit nie], naasteby soos dit hier volg" (my kursief, let op: hier is dit alreeds naastenby: die grens is al klaar oorgesteek sonder dat ons dit regtig kon agtergekom het).

Die storie loop vlot: hoe oom Dirk as jong getroude man kom plaas soek het en toe deur 'n wandelende geraamte die pad aangewys is na 'n klipskeur en 'n begraafplek tussen die ghwarries, waar 'n volgehoue soektog weldra blootlê dat die tweelingbroer van die man wat mettertyd die plaas gekoop het, daar verongeluk het en nie weer tot rus kon kom voordat die twee broers weer kon saamlê nie. Telkens word die loop van die "bonatuurlike" verhaal onderbreek wanneer die verteller, oom Dirk, sy toehoorder, neef Kerneels, met vers en voornaam en kapittel aanspreek om die sfeer van die realistiese – en die reële – in die leser se gemoed lewend te hou: trouens, neef Kerneels, wat eintlik maar die passiewe toehoorder behoort te wees, word selfs as 'n aktiewe getuie bygeroep ("neef Kerneels, jy weet ook iets van die Kouveld se wind"). Ten slotte word alles bevredigend afgerond: "Die rustelose was tot rus gekom; die tweeling was weer bymekaar."

(5)
Wat skering en inslag in dié kort spookverhale is, word tot die omvang van 'n roman uitgebrei in wat dikwels as die "eerste speurverhaal in Afrikaans" aangeprys word. Donker spore, oorspronklik in 1926 gepubliseer, het nie minder nie as ses-en-dertig uitgawes belewe totdat dit in 1974 in die Versamelde werke opgeneem is. 'n Jong verslaggewer, Sarel van Duine, met 'n "kinderlik eenvoudige glimlag" (dus: hoogs betroubaar!) begin by Die Burger werk (destyds, miskien ietwat meer as vandag, opnuut 'n aanbeveling van betroubaarheid) en word deur sy redakteur, Rompel, Ladismith toe gestuur om 'n "spookmoord" te ondersoek: "Man opgehang, doodverwurg, rooi streep om die nek, strop weg, geen ander spoor in die nabyheid nie, natgereënde safte grond, óú bekende spookplek."

Op die eerste uiteensetting van die situasie, gesteun deur 'n berig van 'n hoogs betroubare bron soos Reuters, volg 'n verslag van die hofverrigtinge wat sowel die raaisel verdiep as die spanning opwek deur die gebeure uitdruklik te koppel aan die vermoede van 'n bonatuurlike ingryping – des te sterker omdat die hele opset so uiters realisties bly. Op kenmerkend Langenhoveniaanse maniere word die spanning volgehou en ook verbreed – onder meer deur spanninge teweeg te bring tussen weergawes van die gebeure in die Afrikaanse en die Engelse pers, tussen natuurlike en bonatuurlike verklarings, tussen getuies in die hof, en tussen boer- en ander mense uit die geweste.

In die sentrum staan (weer) dié spanning soos verwoord in 'n gesprek tussen die jong Sarel en sy gasheer, oom Koos: "Seun, kan 'n mens twee kante toe oortuig wees – dat 'n ding so is en dat hy darem nie so is nie?" Wat ons terugbring by Shakespeare se bekende woorde wat dwarsdeur Geeste op aarde en Die wandelende geraamte in Langenhoven se vertaling resoneer:

"Daar's in die hemel, en op aarde ook,
Horatio, meer dinge as waarvan
Gedroom word ooit in jou filosofie."

Die gegewe word ietwat verwikkel deur – natuurlik – 'n ontplooiende en struktureel nodige maar onoortuigende sentimentele verhouding tussen die jong Sarel en oom Koos se dogter Liena, die mins bevredigende aspek van die verhaal. (Maar dan: het selfs die grote Molière nie moeite gehad met die uitbeelding van die verhouding tusen 'n jong man en 'n jong vrou nie?)

Deurentyd is daar realistiese trekkies wat die leser oortuig hou van 'n kenmerkende (Suid-)Afrikaanse landskap en sy mense; maar meermale verdiep dit ook tot die oortuigende oproep van groter en donkerder magte wat op die spel staan: wanneer Sarel en Liena na die waterkloof toe stap, raak die sfeer wat eers taamlik oorbekend-romanties voorgestel is, meer intens: "Alles maak maar die stilte stiller, die plegtigheid plegtiger…" Dit is juis die bewussyn van 'n stilte wat alles omgeef wat daaraan reliëf en die moontlikheid van verdere betekenisse verleen. En hiervandaan durf 'n mens dit dan waag om by Langenhoven se tyd en sy situasie verby te dink na die denkwêreld van latere skrywers en teoretici soos – selfs – Derrida. Sonder om te diep te grawe tot waar mens by inlegkunde uitkom, sou ek net wil suggereer dat selfs die titel, Donker spore gelees sou kon word as 'n (natuurlik onbewuste!) voorafskaduwing van Derrida, met sy voorliefde vir "spore" (traces), waarby 'n subtiele en ingewikkelde stel leesmoontlikhede geaktiveer word om in die letterlike speur-verhaal die veel groter soektog na betekenis te betrek. Daarom durf mens dalk ook versweë moontlikhede vermoed in 'n oënskynlik eenvoudige opmerking van Sarel: "Ek begin hartseer voel dat julle aanhou om met my te spot nes een wat op blinde paaie dool. Ek wil die oom gaan spore wys". (Is dít nie waarom die hele teks wentel nie?!) En dalk is dit tog nie so vergesog nie, omdat Langenhoven hom juis voortdurend bemoei – op soveel maniere en in soveel vorme – bemoei met die vraag na die vorm en aard van betekenis: hoe dit gevorm word, waar dit vandaan kom, waarheen dit dalk beweeg. Hy soek immers, selfs in die speurtog rondom 'n moord, nie maar net na die presisie en direktheid van 'n kaart nie, maar na die verwikkeldheid van 'n skildery, soos duidelik blyk uit 'n gesprek tussen Sarel en Liena: "Nee, Sarel; dis nie net die inhoud nie. Dis die uitsoek en die rangskik en die aanmekaar sit; die nadruk en versagting; die ligte, die skaduwees…" (150) Daarom word die soektog na 'n moordenaar ook 'n veel subtieler soektog na die self: "Oom, ek wil nie woorde ruil nie. Maar ken ons ooit mekaar? Ons ken onsselwe nie." (159) Meermale kom Langenhoven nie veel verder op dié pad op soek na waarhede en moontlikhede wat ánderkant sy storie lê nie: tog is daar deurgaans – in Donker spore, soos in soveel van sy ander werk, aangrypende aanduidings van 'n bewussyn van soveel méér wat daar, soos Van Wyk Louw sou sê, "om die grense/flikker van my duister woorde". Duister woorde; donker spore. En om dan weer 'n oomblik met Opperman te praat: "maar 'n duister land/ bedreig my alkant."

Met die opspoor van die moordenaar – die afgetrede ou Professor Mierdyk wat nou as die boemelaar en kluisenaar Windskut saam met sy dogter hom aan die samelewing onttrek het – sê Sarel die betekenisvolle woord: "Ek het mos gesê ek sou jou die duisternis wys, Liena" (186). Daar word dus ten slotte op die wyse van 'n speurverhaal 'n "oplossing" gevind, maar op die keper beskou, is dit nié 'n finale afronding nie: nie soseer 'n antwoord nie as 'n wederwoord. Om te sê dat ou Windskut (wie se naam reeds 'n sleutel mag wees – nóg 'n spieël waardeur ons in die raaisel kan kyk) "iemand met 'n meervoudige persoonlikheid" is, gee 'n naam aan die raaiselagtige gebeure, maar laat die raaisel van die ander steeds onopgelos. Weer in Derrida se terminologie, staan ons hier voor 'n besef van différance, die term (in Derrida se spelling) waarin "verskil" en "uitstel" ("difference" en "deferral") mekaar ontmoet: die antwoord bly immers nie beslote in die hier-en-nou nie, maar verwys die leser na 'n ánder tyd, in hierdie geval 'n verre verlede. Uiteindelik bly dit dan tog maar by "donkerte" en "spore" – die spore gelaat deur die voete van iemand wat klaar weg is; maar ook die spore van 'n varing waarin nog onvoorsiene toekomste gebêre lê.

In hierdie duisternis word die raaisel van die hede verbind met 'n lang geskiedenis ver daarágter – 'n sameloop van tye en tydperke. Soos dit in Aan stille waters I lui:

"Laat ons die verlede onthou; al wat ons is kom daarvandaan. Laat ons ag gee op die toekoms; al wat ons het gaan daarheen." (246)

Hiermee is die twee groot kondisies van ons menslike bestaan – om te wees en om te hê – tesame by die stille waters van gesamentlike begrip uitgebring en is dit vir bure nie meer nodig om in sonde of onbegrip saam te lewe nie.

» Terug na bo «

BESOEKTYE

MAANDAG TOT VRYDAG [ SATERDAG OP VERSOEK ]
TYE: 09:00 - 13:00 en 14:00 - 16:00


Copyright © 2017  ::  Arbeidsgenot - C.J. Langenhoven  •  Site by:  WebWorX