VAN WIEG TOT GRAF



1873 - C.J. Langenhoven - geboorte & skoolloopbaan
Cornelis Jakobus Langenhoven is in die nag tussen 12 en 13 Augustus 1873 op die plaas Hoeko in die distrik van Ladismith gebore. Hy self het altyd sy verjaardag op 12 Augustus gevier, maar in die doopregister van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Ladismith, staan aangeteken dat hy op 28 September deur Ds. Van Velden gedoop is en op 13 Augustus 1873 gebore is. Hy was 'n swak en tengerige baba wat waarskynlik vroeg gebore is as gevolg van die skok wat sy moeder opgedoen het toe die tweede seuntjie in die gesin vermoedelik kort voor Langenhoven se geboorte in 'n brand gesterf het. Sy moeder, Rachel, is vyf dae na sy geboorte in die ouderdom van 25 jaar, oorlede. Na die dood van sy moeder is Langenhoven na sy oom en tante se huis, die ou opstal op Hoeko, gebring, waar hulle hom as hulle eie kind aangeneem het. Hulle was vir die res van sy lewe sy "Pappie" en "Mammie", terwyl hy sy genetiese vader altyd "Anderpa" genoem het. Omdat hy so klein en tengerig was, het sy pleegvader hom "Petit" genoem. Petit het sy eerste skoolopleiding van goewernantes op Hoeko ontvang. Met die koms van Meester Bloemkolk, Marthinus Paulus Bloemkolk, het hy vir die eerste keer 'n onderwyser van formaat gehad – iemand wat hom goed kon onderrig en met sy persoonlikheid, sy onbesproke karakter, sy pligsgevoel en sy beskaafdheid 'n blywende indruk op die jong gemoed kon maak. Aan die begin van 1888 het Langenhoven op Ladismith, ongeveer 14 km. van Hoeko af, begin skoolgaan. In Julie 1890 word Petit op die ouderdom van 16 jaar en 11 maande in die Riversdale Public School for Boys toegelaat waar hy in Junie 1892 sou matrikuleer.





1882 - Sarie Karolus 'n 15 jarige meisie begin by Lenie van Velden werk
Sarie Karolus van Amalienstein, word as 15 jarige dogter deur haar moeder, wat ʼn vrygelate slavin was, aan Lenie van Velden toegesê. Toe Lenie aan Sarie se ma vra hoe lank die kind dan moet werk was die antwoord, "Haar hele lewe lank." Sarie het dit baie êrenstig opgeneem en vir 63 jaar vir Vroutjie gewerk.





1888 - C.J. Langenhoven & Meiringspoort
Thomas Bain open die Swartbergpas vir verkeer. Tot hierdie stadium was slegs Meiringspoort, wat in 1858 geopen is, begaanbaar na die Karoo. Hierdie poort sou later jare ʼn groot aandeel hê in Langenhoven se gewildheid as skrywer.





1895 - Langenhoven behaal BA-graad, hou onderwys en werk as klerk
Langenhoven is aan die begin van 1893 na Stellenbosch om aan die Victoria College te studeer. Hy wou aanvanklik teologie studeer, maar het toe besluit op die Regte as 'n beroep. Daar is weinig besonderhede oor die twee jaar wat hy op Stellenbosch gestudeer het, bekend. Hy self het van hierdie tydperk gepraat as "'n jarelange stuk woestynlewe waaroor daar min te sê is as dat dit 'n woestyn was." Gedurende 1894 het Langenhoven dan ook die hele jaar op die plaas rondgelê om "daar te maak nes iemand wat leer." In 1893 het Langenhoven vir Helena de Vries op haar niggie se troue ontmoet. Sy was die dogter van Abraham Hermanus en Helena de Vries, welgestelde mense van Prince Albert distrik. Langenhoven en Helena het op 17 Maart 1894 verloof geraak. In 1895 het Langenhoven na Stellenbosch teruggekeer waar hy die B.A.-eksamen in Junie 1895 voltooi het. Vanaf 8 Julie 1895 tot Maart 1896 was hy onderwyser by 'n eenmanskool in Langlaagte. Hy is hierna terug na Hoeko, maar teen hierdie tyd was daar egter reeds iets in die onbestendige jongman wat Abraham de Vries laat besluit het dat sy dogter se verlowing tot 'n einde moet kom. Na die beëindiging van hulle verlowing in 1896, het Kerneels Langenhoven privaat onderwys gegee op Ladismith. In dieselfde jaar het hy begin werk as klerk by Th. C. W. Johnson, prokureur en notaris op die dorp.





1896 - C.J. Langenhoven kry LLB-graad
Hy skryf in vir die graad LLB aan die Victoria Collage vandag die Universiteit Stellenbosch en hier ontmoet weer die pragtige rooikop Lenie van Velden, of Vonkies soos hy haar later genoem het.





1897 - Woodbine ( Tans Arbeidsgenot ) gebou
Op 23 Februarie 1897 word Langenhoven en Lenie van Velden in die pastorie op Ladismith deur Ds. J.W. Louw in die huwelik bevestig. Magdalena Maria Hugo is op 12 Mei 1863 op die plaas Nobelsfontein naby Victoria –Wes gebore. Sy was dus 10 jaar ouer as Langenhoven. Sy is op 11 Januarie 1882 met Anthonie van Velden, 'n jong prokureur van Ladismith, getroud. Vir Lenie en Anthonie is vyf kinders gebore van wie een, Dirk van Velden, klein dood is. Hulle was twaalf jaar getroud toe Anthonie op een-en-veertigjarige leeftyd in Desember 1893 sterf. Na die dood van haar eerste man het Lenie 'n moeilike tyd beleef. Sy het vir 'n geringe salaris as orreliste gewerk. Sy en Kerneels Langenhoven het reeds sedert 1896 met mekaar gekorrespondeer. In Oktober 1899 het die Langenhovens hulle op Oudtshoorn gevestig nadat Langenhoven reeds sedert 17 Augustus 1899 op die prokureursrol geplaas is en begin werk het in die kantoor van J. A. Foster op Oudtshoorn. Die gesin het toe gewoon in 'n huurhuis in Hoopstraat.





1898 - Woodbine ( Tans Arbeidsgenot ) gebou
Die huis Woodbine word gebou deur Benjamin Wigget en Hans Bernardt Hoesch op die erf 452, die ou lot 246 van erf 1 van Oudtshoorn.





1901 - Langenhoven begin as prokureur op Oudtshoorn
Langenhoven verwerf die graad LLB aan die University of the Cape of Good Hope en hy kwalifiseer om sowel as prokureur en advokaat diens te aanvaar. Hy kon dus hierna onmiddelik tot die balie toegelaat word om as advokaat te praktiseer en in die hooggeregshof op te tree. Hy verkies om prokureur te word. Hy verhuis na Oudtshoorn en in Augustus van daardie jaar begin hy daar as prokureur by die firma J.A Foster.





1901 - Langenhoven word as advokaat toegelaat.  Engela - hul enigste kind word gebore.

Langenhoven was in sy sewe en twintigste jaar toe hy as prokureur op Oudtshoorn begin werk het. Ten spyte van sy onervarenheid, het hy weldra as 'n skerpsinnige en hulpvaardige regspraktisyn bekend geraak. Daar was egter wrywing tussen hom en sy vennoot, en hy het in 1901 besluit om in Kaapstad as advokaat te gaan praktiseer. Lenie, wat toe swanger was, het besluit om in Oudtshoorn agter te bly. Hy het baie briewe in die jaar dat hy in Kaapstad was, aan "Vroutjie" geskryf en uit die korrespondensie blyk dit dat hierdie 'n baie moeilike tyd in sy lewe was. Haar briewe aan hom was altyd vol bemoediging. Hulle enigste kind, Margarita Rachel Engela, is op 22 Desember 1901 in die huurhuis in Hoopstraat gebore. In 'n brief gedateer 18 Mei 1902 het Vroutjie laat weet dat Langenhoven se pleegouers haar besoek het en dat hulle ontsteld was omdat Engela nog nie gedoop is nie. Sy is toe op 23 Mei 1902 deur Langenhoven se pleegouers ten doop gebring in die Moedergemeente van Oudtshoorn – terwyl Langenhoven nog in Kaapstad was. In die tweede helfte van November 1902 is Langenhoven terug op Oudtshoorn nadat hy op 13 November die Kaapse Hooggeregshof gevra het om sy naam as advokaat van die advokaterol te skrap en hom as prokureur te herstel. Hy het weer saam met Foster in Oudtshoorn begin praktiseer. Tydens sy jare as prokureur was hy betrokke by 'n hele aantal groot watersake en ook by twee regsgedinge wat sy naam as uitmuntende kenner van die waterreg wetgewing finaal gevestig het. Die ingebonde verslag van sy pleitrede "De zaak over het klein slootje van Hoeko", word tans by Arbeidsgenot bewaar.





1900 - Blink uit as puik wetsgeleerde in watersake





1903 - Langenhoven trek na Arbeidsgenot (vanaf Hoopstraat)
Sowat sewe maande na Langenhoven se terugkeer na Oudtshoorn, op 13 Junie 1903, word 'n akte van transport ten gunste van Magdalena Maria Langenhoven gemaak vir 'n woning met die naam Woodbine, geleë in Westelike Weg – 'n straat wat in 1952 tot Jan van Riebeeckweg herdoop is. In 'n later stadium het Langenhoven die huis herdoop tot Arbeidsgenot en self twee hekke gemaak, met die woorddele "Arbeids" en "genot" aan die straat se kant daarop uitgebeitel. Mev. Langenhoven het die blomtuin behartig terwyl Langenhoven lief was daarvoor om water te lei. Woodbine is in 1898 gebou deur die destydse eienaars, Hans Andreas Bernhardt en August Hoesch en was dus nog 'n betreklik nuwe huis toe die Langenhovens dit gekoop het. Die grond waarop die huis staan, was oorspronklik deel van Erf 1, wat in 1875 verkoop is aan George Mason Edmeades.





1905 - Afrikaanse Taalgenootskap gevestig
Tot ten minste 1907 was Langenhoven nie in die Afrikaanse taalstryd geïnteresseerd nie en het hy eers na die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging tot Afrikaans bekeer geraak. In 1910 het hy 'n artikel "The problem of the dual language in South Africa" gepubliseer. Met sy bekering tot Afrikaans het Langenhoven sy eintlike missie in die lewe gevind, naamlik om te veg vir die regte van Afrikaans en om literatuur te skep wat die aansien van die taal sou verhoog. Aanvanklik het hierdie nuwe ingesteldheid van hom uiting gevind in bydraes tot Ons Land, De Volkstem en later ook Die Brandwag. In 1910 het hy ook 'n klein boekie "Padlangers en zonder doekies: 'n Afrikaansche boodschap van 'n Afrikaander aan Afrikaanders" uitgegee. Kort daarna verskyn die publikasie "The Royal road to Cape Dutch" asook "Die Trouwbelofte" In 1911 publiseer hy "Eenvoudige stukkies en brokkies" . Op 1 April 1912 word Langenhoven redakteur van die plaaslike koerant, "Het Zuid-Westen". In Augustus 1912 word die vakante pos van joernalis by die koerant deur 'n Joodse dame, Sarah Goldblatt, gevul. Alhoewel sy Afrikaans nie geken het nie, kon sy dit gou leer en het sy baie gou Langenhoven se hartstog vir Afrikaans haar eie gemaak. Sy het ook gou sy persoonlike assistent en intieme huisvriendin geword. Langenhoven het gou sy persoonlike stempel op die koerant afgedruk en alles het daartoe gelei dat "Het Zuid-Westen" selfs deur lesers ver buite die suidwestelike distrikte van Kaapland gelees is.





1914 - Word Lid van die Provinsiale Raad - aanvaar afrikaans as onderrigmedium
Om die Afrikanerkind op skool in sy moedertaal te laat onderrig, was die belangrikste enkele rede waarom Langenhoven tot die politiek wou toetree. Hy is op 2 Maart 1914 vir die Suid-Afrikaanse Party as onbestrede verkose lid van die Provinsiale Raad vir die kiesafdeling Oudtshoorn verklaar. Sy eerste deurbraak as parlementslid was die besluit van die Kaapse Provinsiale Raad op 23 April 1914 om Afrikaans as medium van onderrig tot en met standerd IV in te voer na die indiening van sy mosie. Langenhoven het Oudtshoorn ses jaar lank in die Provinsiale Raad verteenwoordig. In 1919 skryf hy 'n boek met die titel "The everlasting annexation" in Engels oor die politieke situasie in Suid-Afrika. Deur sy optrede as voortreflike redenaar en deur sy helder betogende en skerp satiriese prosa het hy 'n beduidende aandeel gehad aan die vroeë en vinnige opgang wat die Nasionale Party in die jare 1915-1920 kon maak. Op 26 Julie 1915 het die eerste uitgawe van De Burger, soos die koerant genoem is, verskyn. Van die begin af het Langenhoven aan De Burger meegewerk en uiteindelik 'n lang verbintenis met die koerant opgebou toe hy onder die skuilnaam Sagmoedige Neelsie gereelde rubrieke vir die koerant geskryf het.





1916 - Afrikaans in die Huisgenoot
Afrikaans as taal maak met rasseskrede vordering. In Mei 1916 verskyn De Huisgenoot onder redaksie van J.J.Smit. In Desember 1917 verander De Huisgenoot sy naam na Die Huisgenoot.





1918 - Die eerste Afrikaanse tydskrif vir die vrou uitgegee, Die Boervrou.
In 1918, die jaar waarin Langenhoven hom feitlik voltyds aan die uit lewing van sy skeppende talent wy, skryf hy 'n gedig wat uiteindelik die verbeelding van sy mense sou aangryp en wat later, aanvanklik saam met "God save the King", tot volkslied verhef sou word. Op Maandagaand, 18 Mei 1918, het hy soos sy gewoonte was, by die tafel in die eetkamer gaan sit om te werk. Die aand het die eerste drie strofes van "Die Stem van Suid-Afrika" ontstaan. As enkele gedig het dit Langenhoven se mees geslaagde werk geword. D. J. Opperman het na 'n fyn analise in 1973 dit 'n "statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse volk" genoem. As strydende politikus, as redenaar sonder weerga en as skeppende kunstenaar was Langenhoven in die vroeë jare van die bestaan vir die Nasionale Party van onskatbare waarde. Hy was reeds betreklik vroeg in die hoofbestuur van die Nasionale Party en van 1929 tot met sy dood voorsitter.





1920 - Langenhoven word tot die Volksraad verkies.





1921 - Word Senator
Hy was slegs vir 'n jaar lank lid van die Volksraad, voordat hy in 1921 tot die Senaat toetree. Hoewel hy nooit 'n spraaksame lid van die hoërhuis was nie, het hy in die byna elf jaar van sy dienstermyn as senator 'n waardevolle bydrae gelewer. Die taalkwessie was nie die enigste saak waaroor Langenhoven hom as lid van die Senaat uitgelaat het nie. Hy het onder meer ook redes oor landboukundige en ekonomiese aangeleenthede, wetgewing betreffende besproeiing en waterregte, industrieë en die vryemarkstelsel, opvoeding en onderwys, die onafhanklikheid van die regbank, die internasionale politiek en die kwessie van Suid Afrika se soewereiniteit en sy posisie as dominium in die Britse Ryk gelewer. Hy was egter as redenaar op sy beste wanneer hy gepraat het oor die Afrikaanse taal en geskiedenis en oor die vertrapping van die regte van die Afrikaner.





1925 - Afrikaans word as parlementstaal toegelaat
Op Woensdag, 18 Februarie 1925, het Dr. D. F. Malan in die Volksraad voorgestel dat Afrikaans in die Parlement gebruik moet word. Die volgende dag, 19 Februarie, het Malan sy voorstel in die Senaat toegelig. Na Malan het Langenhoven aan die Woord gekom met 'n sterk rede ten gunste van die voorstel. Na aanvaarding van die mosie in albei huise is 'n gesamentlike komitee gestig om die kwessie te ondersoek. Langenhoven was een van die verteenwoordigers uit die Senaat. Die uiteinde was dat die wetsontwerp wat gelei het tot die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal op 27 Mei 1925 goedgekeur is.





1926 - Dig die Vlaglied
Gedurende 1926 het Langenhoven die Vlaglied gedig. Dit is in 1959 gedurende 'n seremonie amptelik aan die regering oorhandig.





1927 - Afrikaans word as landstaal, saam met Engels, aanvaar.
Langenhoven was een van die verteenwoordigers uit die Senaat, wat ondersoek ingestel het na die aanvaarding van Afrikaans as offisiële landstaal naas Engels. Die uiteinde was dat die wetsontwerp wat gelei het tot die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal op 27 Mei 1927 goedgekeur is.





1931 - Ontvang 'n ere-doktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch
Op Woensdag, 24 Junie 1931 om 11h00 is 'n ere-doktorsgraad tydens die gradeplegtigheid van die Universiteit van Stellenbosch aan Langenhoven toegeken. By hierdie geleentheid het die rektor, Prof. R. W. Wilcocks die commendatio, opgestel deur Prof. E. C. Pienaar, voorgelees. Daarin sê Pienaar in sy aanbeveling dat Langenhoven "'n algemene bekendheid verwerf het soos geen ander Afrikaanse skrywer vandag besit nie … want Senator Langenhoven skryf nie, maar hy praat, ook waar hy die pen hanteer. Sodat met waarheid van hom gesê kan word dat hy sy volk leer lees het."





1932 - C.J. Langenhoven oorlede
Die aand voor sy dood, het Langenhoven, in die eetkamer van Arbeidsgenot, sy gebruiklike skryfplek, tot ongeveer kwart voor elf die aand, gewerk aan die roman "Die mantel van Elia". Hy wou vroeër die aand niks eet nie, maar het net voor hy gaan slaap het, van Vroutjie se ingemaakte kwepers geëet. Ongeveer halfdrie die nag, word Vroutjie en die huishulp, Sarie Karolus, wat in die kombuis geslaap het, gewek deur 'n gekerm. Langenhoven het gekla van pyne oor sy bors. Die dokter het hom 'n inspuiting gegee. Op Vrydagoggend, 15 Julie 1932, teen ongeveer tien-uur die oggend, het die dokter weer kom kyk hoe dit met hom gaan. Vroutjie het gesê dit lyk of Langenhoven slaap. Sy het deur die luike van die slaapkamer geloer en gesien dat haar man sy asem hard intrek en dat dit lyk of hy hik. Vroutjie en die dokter het die kamer ingestorm, maar Langenhoven se asem was reeds uit.





1950 - Magdalena Maria (Vroutjie) oorlede Bemaak die huis en die inhoud aan die "Afrikaner Volk" van Suid-Afrika
Na Langenhoven se dood het Vroutjie, tien jaar ouer as hy, in hul woning, Arbeidsgenot, haar lewe voortgesit en van tyd tot tyd opgetree by sommige huldigingsaande ter ere van haar oorlede eggenoot. Sy is in haar sewe-en-tagtigste jaar oorlede, op 23 Mei 1950 en is langs Langenhoven in Oudtshoorn begrawe. Vroutjie het in haar testament Arbeidsgenot met alle meubels daarin deur die aanwysing van 'n raad van trustees vir die bedrag van ₤1 500 vir die woning en ₤300 vir die los goedere "ten behoewe van die Afrikaner volk van die Unie van Suid-Afrika te koop aangebied", met die bedoeling om die woning vir besoekers toeganklik te stel en te behou soos dit tydens Langenhoven se lewe daar uitgesien het.





1955 - Arbeidsgenot vir die publiek oopgestel
In 1955 is die restourasie en inrigting van Arbeidsgenot voltooi en op 21 April 1955 is die museum amptelik deur Dr. Jansen in teenwoordigheid van Sarah Goldblatt en Engela oopgestel. Dr. M. Grundlingh was die eerste kurator wat besoekers by Arbeidsgenot moes ontvang.





1973 - Herdenking van 'n 100 jaar van die mens C.J. Langenhoven
Die 100-jarige herdenking van Langenhoven se geboorte is gedurende 1973 by verskillende geleenthede gevier. Verskillende organisasies het gedurende die jaar hulle jaarvergaderings of kongresse in Oudtshoorn gehou, dag-en weekblaaie is ingespan en programme is oor die radio aangebied. Die verrigtinge sou op 10 en 11 Augustus 1973 'n klimaks bereik met die eerste minister se besoek aan Oudtshoorn. Daar was 'n vlaghysing en kranslegging by Arbeidsgenot, sierwaens het deur die dorp se strate beweeg en die C. J. Langenhoven-gedenkbiblioteek is amptelik geopen.





1989 - Arbeidsgenot gerestoureer Arbeidsgenot 2000 - projek van stapel gestuur





1999 - Die huis word in 'n lewende museum omskep





2003 - Stoflike oorskotte word op Arbeidsgenot herbegrawe
Op die 30ste Maart 2003 word Langenhoven en vroutjie herbegrawe by Arbeidsgenot





2003 - Onthulling van grafte as monument
15 Julie 2003 vind die onthulling van grafte as monument plaas.

» Terug na bo «

BESOEKTYE

MAANDAG TOT VRYDAG [ SATERDAG OP VERSOEK ]
TYE: 09:00 - 13:00 en 14:00 - 16:00


Copyright © 2017  ::  Arbeidsgenot - C.J. Langenhoven  •  Site by:  WebWorX