Tuesday, 16 Maart 2010    Grondwet   8:42am  SA Tyd 

ARBEIDSGENOT

GRAFTE

SON HORLOSIE

 
 

Grondwet

Vriendevereniging van Arbeidsgenot - GRONDWET

  1. Naam: Die naam van die vereniging is: Die Vriendevereniging van Arbeidsgenot
  2. Doel: Die doelstellings van die Vereniging is:
    • Om as forum te dien vir mense wat belangstel in en aktief wil deelneem aan die werksaamhede van die museum, kuns- en kultuursentrum.
    • Om openbare belangstelling te kweek en aan te moedig in die aktiwiteite van die museum, kuns- en kultuursentrum.
    • Om bemarking van die museum, kuns- en kultuursentrum aan die publiek te doen deur inligting oor Arbeidsgenot, die aktiwiteite en behoeftes te versprei.
    • Om nuwe lede vir die Vereniging te werf.
    • Om deur middel van ‘n verteenwoordiger op die museum, kuns- en kultuursentrum se Trusteeraad op hoogte te bly van alle aspekte en behoeftes van Arbeidsgenot en om insette te lewer ten opsigte die doeltreffende en volhoubare bestuur van Arbeidsgenot.
    • Om byeenkomste te organiseer, in oorleg met die Trusteeraad van Arbeidsgenot, ten einde die doelstellings te bevorder.
    • Om hulp te verleen met die bestuur, onderhoud en bemarking van die museum, kuns- en kultuursentrum, en die versamelings.
    • Om inisiatiewe te loods ter uitbouing en die voortbestaan van die Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum sodat dit behoue kan bly vir toekomstige geslagte.
  3. Lidmaatskap en Ledegeld:
    • Individue, gesinne, organisasies, ondernemings, maatskappye, ensomeer wat die doelstellings van die Vereniging onderskryf, mag lede word van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot.
    • Toepaslike individuele, gesins- en korporatiewe ledegeld sal jaarliks tydens die algemene jaarvergadering bepaal word.
    • Ledegeld moet inbetaal word by die penningmeester van die Vereniging of by die Administratiewe Kantoor van Arbeidsgenot.
    • Slegs diegene wie se ledegeld vir die bepaalde finansiële jaar opbetaald is, sal as lede van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot gereken word.
  4. Bestuur:
    • Die algemene beheer van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot sal behartig word deur ‘n bestuurskomitee van vyf (5) lede, te wete ‘n Voorsitter, Onder-voorsitter, Sekretaris-Penningmeester, en twee bykomende lede.
    • Lede van die Bestuur sal dien as sameroepers van subkomitees om, waar nodig, bepaalde take uit te voer.
    • Lede van die Bestuur sal tydens die algemene jaarvergadering gekies word vir ‘n tydperk van een (1) jaar; bestuurslede sal herkiesbaar wees.
    • Indien ‘n Bestuurslid om welke rede ookal ophou om lid te wees van die Vereniging of drie agtereenvolgende vergaderings van die Bestuur sonder geldige redes misloop, ontstaan daar ‘n vakature wat deur die Bestuur gevul mag word tot met die volgende algemene jaarvergadering.
    • Aangesien die Vriendevereniging van Arbeidsgenot ‘n landwye organisasie is, sal bestuurslede nie noodwendig geografies naby mekaar woon nie sodat bestuursvergaderings deur middel van moderne afstandstegnologie gehou kan word.
    • Die Bestuur sal telkens tydens ‘n vergadering besluit wanneer die volgende vergadering moet plaasvind. Indien omstandighede dit noodsaak, kan addisionele vergaderings gereël word nadat minstens tien (10) werksdae kennis gegee is van die datum, tyd, en sakelys.
    • Drie lede van die Bestuur vorm ‘n kworum.
    • Een van die lede van die Bestuur moet tydens die algemene jaarvergadering aangewys word as verteenwoordiger van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot op die Trusteeraad van Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum.
  5. Vergaderings:
    ‘n Algemene jaarvergadering van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot sal die algemene jaarvergadering van die Langenhoven Gedenkfonds voorafgaande sodat lede kennis kan neem van die aktiwiteite van die Direksie van die Langenhoven Gedenkfonds en die Trusteeraad van die Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum. Die sakelys van die algemene jaarvergadering moet, benewens enige onderwerpe wat deur die Bestuur of deur lede minstens ses weke voor die vergadering aan die sekretaris besorg is, die volgende insluit:
    • Verkiesing van die Bestuur.
    • Aanwysing van die Vereniging se verteenwoordiger op die Trusteeraad van die Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum.
    • ‘n Voorsittersverslag oor die afgelope jaar se aktiwiteite.
    • ‘n Finansiële verslag oor die voorafgaande boekjaar.
    • ‘n Spesiale algemene vergadering kan op inisiatief van die Bestuur of na versoek van minstens tien (10) lede, belê word; die doel van die vergadering moet in die kennisgewing van die vergadering gemotiveer word en sodanige kennisgewing moet minstens tien (10) werksdae voor die vergadering uitgestuur word aan alle lede.
    • Alle lede sal geregtig wees om die algemene jaarvergadering of enige spesiale vergaderings by te woon en aan besprekings deel te neem. Individuele lede het een stem, gesinslede het twee stemme en korporatiewe lede het vyf (5) stemme.
    • Lede wat nie teenwoordig kan wees by ‘n algemene jaarvergadering of ‘n spesiale vergadering nie, kan skriftelik deelneem aan die bespreking van ‘n punt op die sakelys. Die standpunt ten gunste van of teen ‘n saak op die sakelys, moet duidelik geargumenteer en gemotiveer wees en sal dan as ‘n stem vir òf teen die saak getel kan word indien nodig.
    • Kennisgewings van vergaderings waarby die sakelys ingesluit is, moet minstens tien (10) werksdae voor die vergadering uitgestuur word aan lede.
  6. Kommunikasie:
    Lede mag skriftelik per landpos of per vonkpos met die Bestuur kommunikeer oor enige relevante onderwerp (soos wenke, versoeke, voorstelle). Indien van toepassing sal die Bestuur deur sy verteenwoordiger op die Trusteeraad van die museum, kuns- en kultuursentrum sodanige kommunikasie aan die Trusteeraad voorlê vir afhandeling, indien nodig deur dit na die Direksie van die Langenhoven Gedenkfonds te verwys.
  7. Wysiging van Grondwet:
    Wysigings aan die Grondwet mag gedoen word nadat gemotiveerde voorstelle betyds vir die algemene jaarvergadering ingestuur is en die lede teenwoordig by die vergadering goedkeur om sodanige voorstel(le) per posstem voor te lê vir goedkeuring deur ‘n twee-derde meerderheid van ingeskrewe lede.
  8. Finansies:
    • Die Penningmeester sal sodanige boekhouding waarneem as wat vir die Vereniging se geldsake nodig geag word. ‘n Geouditeerde staat sal jaarliks by die algemene jaarvergadering voorgelê word.
    • Die fondse van die Vereniging sal, ten einde koste te bespaar, aan die Trusteeraad van die Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum besorg word vir belegging by ‘n goedgekeurde finansiële instelling, maar onder ‘n aparte itemhoof van die Trusteeraad se finansiële state. Die oudit van die Trusteeraad se state sal dus die oudit van die Verening insluit.
    • Onttrekkings van fondse uit die gemelde rekening moet deur minstens twee gemagtigde bestuurslede onderteken word.
    • Fondse mag aangewend word om die Vriendevereniging van Arbeidsgenot te bemark, om die instandhouding en ontwikkeling van die Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum te bevorder en om kommunikasie met lede te ondersteun.
  9. Ontbinding van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot:
    Ontbinding van die Vriendevereniging van Arbeidsgenot mag slegs plaasvind by ‘n wettig gekonstitueerde vergadering van lede. Alle bates van die Vereniging sal dan oorgedra word aan die Direksie van die Langenhoven Gedenkfonds om ten behoewe van die Arbeidsgenot museum, kuns- en kultuursentrum aan te wend.

BEELD IN TUIN

TUIN

OUDTSHOORN
 
Kopiereg © 2010  ::  Langenhoven Gedenkfonds -  Webtuiste deur: WebWorX