| | In 1918, die jaar waarin Langenhoven hom feitlik voltyds aan die uit lewing van sy skeppende talent wy, skryf hy ‘n gedig wat uiteindelik die verbeelding van sy mense sou aangryp en wat later, aanvanklik saam met “God save the King”, tot volkslied verhef sou word. Op Maandagaand, 18 Mei 1918, het hy soos sy gewoonte was, by die tafel in die eetkamer gaan sit om te werk. Die aand het die eerste drie strofes van “Die Stem van Suid-Afrika” ontstaan. As enkele gedig het dit Langenhoven se mees geslaagde werk geword. D. J. Opperman het na ‘n fyn analise in 1973 dit ‘n “statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse volk” genoem.
As strydende politikus, as redenaar sonder weerga en as skeppende kunstenaar was Langenhoven in die vroeë jare van die bestaan vir die Nasionale Party van onskatbare waarde. Hy was reeds betreklik vroeg in die hoofbestuur van die Nasionale Party en van 1929 tot met sy dood voorsitter.
|