| | Die aand voor sy dood, het Langenhoven, in die eetkamer van Arbeidsgenot, sy gebruiklike skryfplek, tot ongeveer kwart voor elf die aand, gewerk aan die roman “Die mantel van Elia”. Hy wou vroeër die aand niks eet nie, maar het net voor hy gaan slaap het, van Vroutjie se ingemaakte kwepers geëet. Ongeveer halfdrie die nag, word Vroutjie en die huishulp, Sarie Karolus, wat in die kombuis geslaap het, gewek deur ‘n gekerm. Langenhoven het gekla van pyne oor sy bors. Die dokter het hom ‘n inspuiting gegee. Op Vrydagoggend, 15 Julie 1932, teen ongeveer tien-uur die oggend, het die dokter weer kom kyk hoe dit met hom gaan. Vroutjie het gesê dit lyk of Langenhoven slaap. Sy het deur die luike van die slaapkamer geloer en gesien dat haar man sy asem hard intrek en dat dit lyk of hy hik. Vroutjie en die dokter het die kamer ingestorm, maar Langenhoven se asem was reeds uit. |