Erkenning aan hom wat AFRIKAANS vir ons toeganklik, leesbaar en amptelik gemaak het.
"Om ons één eie taal tot nut te gebruik is groter kuns as om sewe vreemdes by te leer."
ARBEIDSGENOT Oudtshoorn is die werkswinkel waar Afrikaans gevorm is en waar
"Die Stem van Suid-Afrika" uit die hart en pen van C.J. Langenhoven verrys het.
"VAN WIEG TOT GRAF" MET C.J. LANGENHOVEN ( SAGMOEDIGE NEELSIE )
Op 23 Februarie 1897 word Langenhoven en Lenie van Velden in die pastorie op Ladismith deur Ds. J.W. Louw in die huwelik bevestig. Magdalena Maria Hugo is op 12 Mei 1863 op die plaas Nobelsfontein naby Victoria –Wes gebore. Sy was dus 10 jaar ouer as Langenhoven. Sy is op 11 Januarie 1882 met Anthonie van Velden, ‘n jong prokureur van Ladismith, getroud. Vir Lenie en Anthonie is vyf kinders gebore van wie een, Dirk van Velden, klein dood is. Hulle was twaalf jaar getroud toe Anthonie op een-en-veertigjarige leeftyd in Desember 1893 sterf. Na die dood van haar eerste man het Lenie ‘n moeilike tyd beleef. Sy het vir ‘n geringe salaris as orreliste gewerk. Sy en Kerneels Langenhoven het reeds sedert 1896 met mekaar gekorrespondeer.
In Oktober 1899 het die Langenhovens hulle op Oudtshoorn gevestig nadat Langenhoven reeds sedert 17 Augustus 1899 op die prokureursrol geplaas is en begin werk het in die kantoor van J. A. Foster op Oudtshoorn. Die gesin het toe gewoon in ‘n huurhuis in Hoopstraat.